-

Nou op die lug: -

Volgende: -

-

Tuis | Nuus

Nuus

RSG saai elke dag tot soveel as 18 nuusbulletins uit. Klik op die betrokke uur hieronder om daardie spesifieke bulletin te lees.

Die minister van Sport, Nathi Mthethtwa, het aangekondig dat Krieket Suid-Afrika ‘n kennisgewing ontvang het oor ingryping deur die regering. Die departement van Sport, Kuns en Kultuur sê in ‘n verklaring talle pogings is oor etlike maande aangewend om die KSA by te staan in die stabilisering van bestuurskwessies. Mthethwa sê die KSA het tot 27 Oktober kans om skriftelike voorstelle te doen alvorens die regering sal ingryp. Die departement se woordvoerder, Masechaba Khumalo, sê Krieket Suid-Afrika moet verduidelik hoekom die regering nie moet inmeng nie. Hy sê die minister sal persoonlik verduidelik wat die ingryping sal behels.

Die DA in Emfuleni in Gauteng het die ANC beheerde munisipaliteit skerp gekritiseer nadat sy bankrekening bevries is oor 45 miljoen rand se skuld vir koopkragmeters. Die DA sê die ANC het nagelaat om dienste aan die inwoners te lewer, terwyl die bevriesing van die munisipaliteit se bankrekening die situasie gaan vererger. ‘n Chinese maatskappy se eis vir 45-miljoen rand is toegestaan nadat die hooggeregshof in Johannesburg beslis het dat die rekening bevries word. Die eis spruit uit ‘n kontrak in 2014 vir die installering van koopkragmeters in fases. Die kontrak is volgens die munisipaliteit egter opgeskort nadat die inwoners nie vir die meters te vinde was nie. Die maatskappy het egter die betaling geëis ondanks die opskorting van die kontrak.

Die minister van Polisie, Bheki Cele, sê hy glo nog verdagtes sal binnekort in hegtenis geneem word in verband met die moord op die Kaapstadse speurder, Charl Kinnear. Cele sê ‘n verslag oor Kinnear se dood deur die afdelings-kommissaris vir sigbare polisiëring, is bykans afgehandel. Hy sê die besonderhede van ander verdagtes wat aangekeer moet word, sal in dié verslag vervat word. Kinnear, wat verbonde was aan die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, is verlede maand buite sy huis doodgeskiet. Die 39-jarige oud-rugbyspeler, Zane Kilian, is die enigste verdagte wat tot dusver inhegtenis geneem is. Hy verskyn na verwagting vanoggend in die Bishop Lavis-landdroshof.

Die staat het in die Pastoor Timothy Omotoso-verkragtingsaak gesê ‘n sterk moontlikheid bestaan dat hy gedeporteer kan word indien borgtog toegestaan word. Die staat en die verdediging stamp koppe oor Omotoso se dokumentasie nadat hy deur die departement van Binnelandse Sake as ‘n verbode persoon verklaar is. Omotoso en sy twee medepligtiges staan tereg op meer as 90 seksverwante aanklagte, insluitend mensehandel, verkragtig en seksuele aanranding.

Die VN se Algemene Vergadering het China en Rusland tot die Menseregteraad verkies ondanks wydverspreide kritiek op hul menseregterekords. Die Ivoorkus, Gaboen, Kuba, Bolivia, Uzbekistan, Frankryk en Brittanje is ook verkies tot die raad van 47 lede. Kandidate word in ‘n geheime stemming in geografiese gebiede verkies om gelyke verteenwoordiging te verseker. Die Direkteur van die VN Human Rights Watch, *Louis Charbonneau, sê die raad het nie ‘n vetoreg nie. Hy sê die raad kan steeds goeie werk doen ondanks lede wat hul skuldig maak aan die misbruik van menseregte.

POTGOOI (gewildste)

INTERAKTIEF

Volg ons op sosiale media: